Die dag na Kersfees is die een dag van die jaar wat ons heeltemal niks doen. Na al die opwinding van Oukersaand of “Ou” Kersfees soos my vyf jarige seuntjie sou sê en die samesyn van Kersdag of nuwe Kersfees soos hy sou sê is dit verfrissend om geen verpligtinge of takies te hê wat moet klaar wees nie. Slaap tot jy wakker word, drink ‘n koppie koffie in die vroeë oggend ure en kruip dan terug in die bed. Net omdat ek kan.
Geen haas om êrens betyds te wees nie, hoef nie op te dress of reg te staan vir mense nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek geniet dit vreeslik om mooi aan te trek en voor te berei vir ons Kersete, maar daar is ‘n rustigheid wat oor mens kom wanneer jy net by jouself kan wees en nie aan iets spesifieks hoef te dink of te beplan nie. Net om te wees.
Elkeen in die huis is besig met hulle eie dingetjies. My man en seuntjie speel cops en robbers om die huis. My dogtertjie speel met haar nuwe poppe en ek drentel maar hier om die huis, kyk bietjie my gunsteling tv stories en elkeen peusel maar aan oorskiet kersfees kos. Geen moeite. Geen haas.
Selfs die honde is lui en lê rond soos vrot velle. Ag, wie flous ek? Hulle lê elke dag so rond! ?
Nietemin, ek besef dan net weereens hoe dankbaar ek is. Vir al die kosbare mense in my lewe, my pragtige kinders, my wonderlike man, familie en die natuur. Dankbaar dat ons ‘n heerlike Kersfees kon hou, dat ons almal bymekaar is om Christus se geboorte te kon vier. En dan te herlaai en ontspan die dag na Kersfees.