Soms voel mens net “af” en jy weet nie eintlik hoekom nie. Veral as jy soveel het om voor dankbaar te wees en glo my, ek is ‘n ongelooflike dankbare mens. Ek dink meer, dalk het dit nie te doene met dankbaarheid nie maar meer met die feit dat jy nie so gelukkig is as wat jy dink jy moet wees nie. Miskien is gelukkig ook nie die presiese regte woord waarna ek opsoek is nie. Ek dink die woord joy is die regte woord. Soms voel dit of my joy gesteel word.
Na ‘n opwindende dag, is ek vreeslik moeg en wil net ‘n bietjie rus, maar my ou hondjie wat ookal amper 13 jaar oud is, is nie lekker nie en my man besluit hy moet veearts toe. Daar ry hy toe met my kar en gaan staan net so blok van die huis af met ‘n pap battery. Really, my kar is nou net gediens, nuwe bande opgesit en daar gaat die battery. In elk geval, ek kry die kinders in die kar, sukkel eers met sy garagedeur want die motor het die week voor dit opgepak en dis nie net van tel die deur op en hy is oop nie, O nee, jy moet hier ‘n tou trek en terselfdertyd die deur oplig. Nietemin, die deur is oop, die kinders in die kar, en hier kan ek nie die kar aan die gang kry nie. Want o wee, ek is gewoond aan my ratkaskar en syne is automaties! Kry vir manlief op die foon, druk die start knoppie, sit die kar in trurat maar hy beweeg nie… Agnee!! Manlief gaan sommer sy broer bel om te kom help. Vervlaks, dit sal die dag wees besluit ek. Hierdie kar gaan my nie onder kry nie. Ek sal jou aan die gang kry. En ek het. Met rukke en stote, maar ons is uit die garage en het dit tot by pappa gemaak met die jumper cables. So hier staan ons al te koddig op die sypaadjie: Mamma en twee kinders en ‘n Jack Russel onder die arm. Pappa kry die kar weer aan die gang en ons sukkel maar huistoe. Hy reken dit was nie bedoel dat ons veearts toe gaan daai dag nie.
Ag, en toe voel ek sommer net neerslagtig. Klim sommer in die bed. My meisiekind kom kikker my op met ‘n bakgatplan. Ek en sy hou movie aand. Ons kyk vir die soveelste keer: The Grinch en The Greatest Showman. Die twee stories is eintlik pragtig en elkeen het ‘n baie dieper betekenis as wat mens sou dink. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat almal eintlik net ingesluit wil wees. Deel wil wees van iets, samesyn wil beleef. ‘n Plekkie om te behoort. Gelukkig en geliefd wil voel. Geborge. Toe die Grinch saam Kersfees hou met die ander Who’s toe verdwyn sy kwaaigeit/bitterheid en suurheid.
Op die einde van The Greatest Showman besef P.T. Barnum hy wil net sy familie bymekaar en gelukkig hê. Hy moes eers alles verloor om te besef hy jaag die verkeerde goed na. Ook al die freaks wat hy bymekaar gebring het met die skep van die sirkus, staan hom by en verduidelik vir hom: hulle is mekaar se familie. Hierdie was vir my mooi: P.T. Barnum het gesê: “The noblest art is that of making others happy” EN almal wil eintlik maar net gelukkig wees. Is dit nie waar nie?
Ek dink toe ook aan die volgende vers: Johannes 10:10 “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Die duiwel kom steel ons joy want hy kan nie vat as ons gelukkig is nie. Dan kom plant hy allerande saadjies van ontevredenheid en moedeloosheid in ons koppe. Ons moet kies om te fokus op die mooi en die goeie in die lewe. Ons moet ons joy veilig bewaar. Jesus het gekom om vir ons lewe te gee en dit in oorvloed.